Van Bergpieke tot Klein Dorpe: ’n Reis van Geloof, Familie en ’n Enkulu 3 se Eerste Stappies
Ons het Thorn Tree se bosveld vir ’n paar dae verruil en suid gery — verby die glinsterende Sterkfonteindam, af met die kronkelende Oliviershoekpas, totdat die berge oopvou en Drakensville jou soos ’n rustige vallei innooi. Met die Amfiteater wat soos ’n reuse-steenmuur oor alles waak, voel hierdie UNESCO-bergwêreld soos ’n gebed nog voordat jy uitklim.
Woensdag het ons hier ingestoot met ons splinternuwe Infanta Enkulu 3 vir haar (en ons) eerste regte kampeer-avontuur. En soos alle eerste toere het sy eie humor gehad: iets by die huis vergeet, ’n klein lekkasie wat groet, en ’n vinnige lysie van “goed om later te verbeter."
Maar dis hoe ’n karavaan jou eie word — tussen die draaie van die pas, die berglug, en die eerste stories wat saam met haar begin vorm.

Geloof, Gemeenskap & Geseënde Boodskappe
Teen Donderdag het die ander deelnemers aan die kerkkamp begin opdaag — vriende en mede-gelowiges wat ons lanklaas gesien het. Dit was heerlik om weer stories te deel, saam te aanbid, en deur die kragtige boodskappe van Pastoor John Lomacang en ander sprekers aangespreek te word. Om God se Woord te hoor terwyl die Drakensberg soos reuse-kathedralemure rondom jou oprys, roer die siel diep. Daar is iets wat jou stil maak aan hierdie berge: hulle laat jou nie net opkyk nie, hulle lig jou gees. Onder hul eeue-oue teenwoordigheid raak die wêreld groter, maar jou hart word rustiger. Soos die psalmis skryf: “Ek slaan my oë op na die berge—waar sal my hulp vandaan kom?” (Ps. 121). Hier tussen rif en hemel onthou ’n mens weer hoe klein ons is, en hoe diep ons vasgehou word deur die Een wat hierdie berge gevorm het. Wanneer die dagbreek oor die pieke spoel en die mis nog in die valleie hang, sak daar ’n vrede neer wat mens lank wil vashou. Ná die kamp het die groep Maandag huis toe vertrek — maar ons het nog ’n paar dae bygevoeg. Die hart wou eenvoudig nóg ’n bietjie in die berge bly, by hierdie plek van ontmoeting en versterking, waar God op sy stil, majestueuse manier met jou praat.

Drakensville Resort — ’n Gesinshemel
Hierdie plek is een van daardie Drakensberg-plekkies waar jy inry, jou deur oopmaak, en sommer voel hoe die kinders vanaand uit pure moegheid gaan neerslaan. Dis netjies tot in die fynste detail en propvol gesinsaktiwiteite — amper soos ’n klein herstelkamp vir uitgeteerde ouers.
Met twee verwarmde swembaddens (een binne, een buite) is jy gedek, al probeer die bergweer sy dramaqueen-dae uitpak. Die groot glijbaan hou jonk én oud besig — jy hoor heeltyd net “net nog een keer!”, gewoonlik van iemand wat al twintig keer gegly het.
Mini-gholf, speletjies, wandelroetes, en berglug wat jou longe laat voel asof hulle ’n predikantsseën gekry het — dis alles daar. Die winkel is netjies, die geriewe uitstekend, en elke nou en dan loer die Amfiteater oor die heuwels in met ’n uitsig wat jou behoorlik laat stilhou.
Kom ons wees eerlik: die uitleg van die akkommodasie en kampeerplekke het bietjie van ’n “ons sit maar neer waar daar plek is”-gevoel. Dit kon beslis beter beplan wees. En ja, die uitsig is mooi — maar nie altyd daai perfekte, ikoniese “bederf in die natuur”-toneel waaraan ons bosspoilt sielkinners gewoond is nie.
Maar dan kom die wenpunt: geen musiek, geen geraas, geen luidrugtige buurman wat dink hy’s die DJ van Blok A nie. Hier word stilte gerespekteer. En daardie stilte, saam met die rustige atmosfeer, maak alles reg — selfs die kampuitleg wat soms lyk asof dit deur ’n kreatiewe wind beplan is.
Netjies. Veilig. Stil. Sorgeloos.
’n Plek waar gesinne kan ontspan… en waar die enigste klank gewoonlik bergwind of laggende kinders is.
Oggendstappe & Warmwater-Welstand
Elke oggend voor ontbyt het ek my 5 km-wandelroete aangedurf — daardie uur wanneer die Drakensberg nog net begin rek en gaap. Die berglug was só skerp dat dit jou vinnig laat besluit om jou sondes bely of vinniger stap. Maar stap vir stap word jou kop ligter en jou longe dankbaar.
Ná die wandeling het die warm swembaddens soos ’n mini-hemel gevoel. Daai eerste duik in die warm water? Pure saligheid. Jou spiere ontspan, jou siel glimlag… en jy voel ewe skielik baie regverdig oor daai tweede bord pap ná die tyd. Dis ’n oggendroetine wat lig, lewe én ’n bietjie selfverwondering bring — die perfekte begin vir elke dag in die berge.

’n Vinnige Ompad deur Geluksburg
Erens langs ’n grondpad wat die GPS koppig as ’n “hooftoegangsroete” aangedui het, het ons uiteindelik in Geluksburg beland — ’n klein Drakensberg-dorpie wat perfek in sy bergkom weggeskuil lê, asof dit self deel is van die klowe en stilte. Hier het tyd nie net vertraag nie; hy het waarskynlik sy hoed neergesit en besluit om vir altyd te bly. ’n Paar huisies, ’n paar hoenders wat duidelik die dorpsraad vorm, en reuse berge wat soos sagte wagte oor alles waak.
Dis die soort plek waar mense jou aankoms al geweet het nog vóór jou enjin klaar afgeskakel het. Geen winkels met helder ligte nie, geen verkeer nie, nie eens die idee van ’n robot nie — net stofpad, stilte en ’n dorp wat lewe teen dieselfde kalm ritme as die berge rondom dit.
Geluksburg is klein, ja, maar dit pas só volledig in hierdie rustige berglandskap dat jy voel jy ontdek iets kosbaars net deur daar te wees. As jy te vinnig deurjaag, mis jy dit heeltemal. Maar ry stadig — asem die stilte in — en jy voel hoe jou bloeddruk daal, hoe jou hart sagter klop, en hoe die eenvoud van die plek vir jou fluister hoe mooi “stil” kan wees.

Bergville & Winterton — Terug op My “Ek-Ken-Hier-Elke-Grondpad”-Gebied
Ons draai toe deur Bergville en Winterton, twee dorpe wat vir meeste reisigers maar net bergpad-stopplekke is. Maar vir my… wel, dis ou bekend terrein. Jare gelede was hierdie hele streek my ek-ken-hier-elke-grondpad-gebied toe ek nog as verkoopsman rondgeswerf het — van plaas tot plaas, van veearts tot koöperasie, met my bakkie wat elke slaggat en draai by die naam geken het.
Om nou weer hier deur te ry, tussen die valleie wat destyds my kantoor was, het my sommer teruggeneem na daardie dae van stywe handdrukke, boere met stories langer as hul aankooplys, en die eenvoudige ritme van die bergplatteland. Die dorpe voel steeds bekend, die berge waak steeds oor alles, en ek kon amper weer hoor hoe my notaboek klap toe ek ’n bestelling neerskryf.
Dis snaaks hoe jou ou werksroetes jou later soos ’n warm kombers van herinneringe omvou — veral wanneer die Drakensberg dit alles met sy stil majesteit terugbring.

Noordelike Drakensberg — Waar die Berge Self Vertel
Wanneer jy die Noordelike Drakensberg binnekom, voel dit asof die wêreld skielik groter word. Voor jou troon die Amfiteater — ’n rotswand van sowat 5 km breed wat meer as 1 200 m die hemel in stoot. 'n Toneel so imposant dat selfs jou gedagtes ’n tree terug gee.
Bo-op dié klipreus lê die Tugelarivier, rustig soos ’n bergmonnik… totdat sy skielik oor die rand stort as die Tugela-waterval, een van die hoogste ter wêreld. ’n Waterval wat jou laat wonder hoekom jy ooit oor stadsgedruis opgewonde raak.
Tussen die kranse skuil eeue oue San-rotsskilderye, broos en betowerend — klein fluisteringe van mense wat lank voor ons hier geleef het. En die berg is nooit alleen nie: eland, bobbejane, jakkalse, en ’n weelde voëlspesies leef hier asof die wêreld aan hulle behoort.
Vir avonturiers is dit ’n natuurlike speelgrond, eindelose staproetes, roetes vir trail runners met durf, bergfietsry wat bene laat brand, en koue bergriviere perfek vir forelvisvang.
Die Noordelike Drakensberg is nie net ’n plek om te sien nie — dis ’n plek wat jou stilmaak, jou asem vat, en jou weer laat onthou hoe wild en wonderlik die wêreld kan wees.
Waar Geloof, Berge en ’n Enkulu 3 Beter Asemhaal
Daar’s iets aan die Drakensberg wat jou stilmaak nog voordat jy jou kampstoel oopklap. Dis asof die berge self eers diep asem skep… en dan vir jou fluister: “Kom, rus bietjie.” En ons het geluister — dankie tog, want ons siels-batterye het dringend ’n herlaai nodig gehad.
Ons week was gevul met gelag en herinneringe saam met ou vriende wat jy maar net in die berge kan kry—daardie soort mense wat jou laat dink: “Ja, ek moet hulle meer gereeld sien… maar miskien nie almal op dieselfde toer nie.”
Ons Infanta Enkulu 3 het ook haar kans gekry om te wys wat sy kan doen. Na die eerste toer weet ons nou: sy’s sterker as wat sy lyk, sy kan meer dra as wat die handleiding belowe, en sy vergewe jou selfs as jy haar met jou “eerstekeerfoute” beledig. ’n Mens kry respek vir ’n karavaan wat nie vir klein lekkasies skrik nie.
En dan — die groot geskenk: ’n hart vol dankbaarheid vir daardie unieke rus wat net ’n berg vir jou kan gee. Daar waar jou gedagtes stadiger stap as jy, en waar stilte meer sê as jou WhatsApp-groep. ....Soms roep die bos….. maar soms fluister die berge sagter, nader: “Bly nog ’n bietjie.”
En dis presies wat ons gedoen het.

n Laaste Draai: Familie, Vrede en Woodstay Lodge
Op pad terug uit die Drakensberg het ons in Newcastle ingedraai vir ’n spesiale stop by my broer en skoonsuster, Peter en Tess, by hul Woodstay Lodge. Soos altyd is hul plek ’n rustige asemrower — ’n lodge wat die warmte van hout, natuur en goeie geselskap perfek meng. Dit was ’n welverdiende tussenstasie waar ons kon ontspan, lag, saam eet en die stories van die week met familie kon deel. Woodstay het daardie unieke bekoring: jy arriveer as ’n reisiger, maar jy voel binne minute weer tuis. ’n Mooi afsluiting voordat die pad ons verder huis toe vat.

Tot die volgende avontuur — of dit nou in die wild by TTBC is, of weer hoog bo waar die Drakensberg die hemel aanraak.
Rodney & Elzabé